Monday 29 February 2016

Sosiale media is bo-baas!


Sosiale media is bo-baas!

Ek is soms bang vir verandering, soms bang om net ‘n ander uitdaging aan te gryp omdat dit moontlik in ‘n mislukking kan ontaard. MAAR soms moet mens daardie kanse net vat... Ek dink tog sosiale media is ‘n plek waarmee mens kan “explore” om hierdie kanse aan te gryp en leer in skole te bevorder.

In my kurrikulumstudie vakke in die Natuur- en Lewenswetenskappe kan sosiale media eintlik ‘n baie waardevolle bydra lewer. In meeste skole word selfone en elektroniese tegnologie in die klaskamers verbied, maar hoekom nie hierdie hulpmiddels juis betrek in die klaskamer nie? Gebruik die leerders dit nie in elk geval in klasse ten spyte van hierdie tipe reëls nie? Die beste aspek van die sosiale media sal ook wees dat leerders wat internettoegang het baie maklike toegang het tot inligting indien hul, hul slimfone en tablette gebruik. Dit hoef dus nie net beperk te word tot die klaskamer as hulpmiddel van leer nie, maar ook as ‘n medium om kennis uit te ruil tussen onderwysers en leerders na-ure.

In ‘n vakgebied soos Lewenswetenskappe is visuele beelde van kardinale belang om sin te maak van sekere prosesse in die liggaam en natuur. As opvoeder sal die sosiale media ‘n wonderlike platform wees om hierdie media of sketse te deel met die leerders. Dit kan ook van hulp wees om gereeld nuwe wetenskaplike ontdekkings en artikels in die veld van biologie te deel sodat leerders met die nuutste inligting en bevindinge opgedateer is.  Provenzano (2015) publiseer juis dat twitter ‘n wonderlike medium is om in kontak te bly en idees uit te ruil. Huiswerk kan getwiet word en so kan leerders op hoogte bly met belangrike aspekte.

Lewenswetenskappe bestaan uit ‘n praktiese komponent en Instagram sal ‘n prettige manier wees om foto’s en video’s te deel wat leeerders tydens praktiese periodes uitgevoer het. Op hierdie manier kan die ouers van leerders ook bewus raak van wat leerders in klaskamers doen. ‘n Facebookblad kan geskep word waar daar ook inligting gedeel word. Video’s kan ook daarop gelaai word asook aanbiedinge of klasprojekte wat leerders tydens groepwerk doen. Blogging sal die beste platform wees om ekstra inligting te deel met die leerders of om konsepte in meer detail te verduidelik as daar nie genoeg tyd in klaskamers is nie.

Sosiale media sal ook die leerders bevorder om kritiese denke te ontwikkel om sekere argumente onder mekaar uit te ruil of iets bymekaar ook te leer. Dit sal ook die leerders toegang gee (wat ek sal doen) om enige vrae direk te rig aan die onderwyser deur sosiale media indien die leerder met ‘n sekere afdeling sukkel buite skoolure.

Ek gaan beslis dit in my skool implementeer veral in my vakgebied sal dit ook die geleentheid bied aan die leerders om herinneringe te maak deur foto’s te hou en so “skool” op ‘n kreatiewe manier te stimuleer. Die grootste beperking/uitdaging gaan wees die tipe skool waar mens geplaas gaan word. Daar moet in ag geneem word dat minder bevoorregte skole en gebiede waar leerders nie die finansiële ondersteuning het nie, nie maklik hierdie tipe bronne tot beskikking gaan hê nie. Daar kan altyd na ‘n oplossing gesoek word! Leef die 21ste eeu voluit!



No comments:

Post a Comment